
Ekself, pa en my broer so iewers rondom 1970
Seker maar iets aan ouer word wat mens soms aan jou pa laat dink. Myne het in Krakeelrivier, Langkloof, Oos-Kaap grootgeword. Al 16 jaar nie meer met ons nie, maar iemand wat ek altyd met groot respek sal onthou.
Nie maklik grootgeword nie, op 15 jaar oud, in Std 9 soos dit toe genoem is, sy eerste paar skoene gekry. Baiemaal die storie vertel hoe hulle deur die riviertjie skool toe gestap het, en hoe die ys so onder hulle kaal voete gekraak het.
Oor skool het hy altyd ‘n paar stories vertel. Soos oor hoe hy ‘n patat as skoolkos saamgevat het skool toe. Dan na skool het hy by die huis 2 patats gekry. Een vir sy middagete en een vir sy pa op die lande – wat hy dan vir hom gevat het en sommer verder saam gewerk op die plasie ook.
Dan was daar die storie oor hoe sy pa hom einde Std 7 (Graad 9) uit skool wou haal. Die grondjie wat sy pa geboer het was nie eintlik groot genoeg om ‘n bestaan op te maak nie, en dit het maar skraps gegaan. ‘n Onderwyser (Kan glad nie onthou of my pa ooit sy naam genoem het nie, maar sou dit graag wou weet) het met my oupa gaan praat. Vir oupa oortuig dat pa nog ‘n jaar mag skoolgaan. Die prys was dat die onderwyser my pa se skoolgeld vir Std 8 betaal het! Einde std 8 was dit weer die selfde storie, met die onderwyser wat weer Std 9 se skoolgeld betaal het. Maar tevergeefs!
Middel Std 9, so rondom 1949, verkoop oupa die plasie, pa is uit die skool uit en hulle trek Uitenhage toe. Hele familie moet help kop bo water hou. Pa was die oudste seun (was nog 2 susters wat ouer was) en hy begin pos aflewer. Net ‘n paar maande later hoor hy dat SAMAD (South African Motor Assemblers and Distributors – deesdae Volkswagen) mense soek vir die nuwe model wat hulle gaan bou – die Studebaker. Pa jok oor sy ouderdom, want hy is nog nie 16 nie. Gelukkig nie baie gepla oor ID dokumente daardie jare nie, en pa kry werk by die motorfabriek. Sy eerste werk is om ‘n Studebaker se “Bullet nose grill” aanmekaar te sit.
Hier begin ‘n hele ander tyd vir pa. Hy verdien 5 pond en ‘n tiekie – en sy ma vat die 5 pond en los hom met die tiekie! Later jare is hy en my ma getroud en rondom 25 jarige ouderdom daag ek op. Pa besluit hy kan nie sy hele lewe karre aanmekaar sit nie (toe al VW Beetles) en begin by die “Tek” (Tegniese kollege) aandklasse loop om sy matriek te kry. My vroegste herinneringe aan hom was dat ek hom net naweke gesien het. Hy is uit die huis in die oggend voor ek wakker geword het. Van werk af “Tek” toe. Dan by die huis gekom as ek al geslaap het.
Een of twee keer as ek wakker was as hy laataand by die huis gekom het, onthou ek hoe hy reguit na die yskoue koffiekan – my ma het koffie in ‘n ketel met ‘n sak gemaak – gestap het en sommer so uit die tuit uit die yskoue koffie gedrink het.
Om ‘n lang storie kort te maak, hierdie pa het sy matriek gekry, later sy ingeneursgraad deur die pos by die Universiteit van London verwerf.
In 1968 toe VW sy heel eerste rekenaar kry, werk pa al in die “work study” departement by VW. Die departement behartig die installering van die rekenaar. Toe die personeel rekords gerekenariseer word, korrigeer pa sy geboortedatum op die sisteem!
Respek vir my pa? Beslis!!